Monday 7 May 2012

Karoo

Van my kinderdae onthou ek lang vakansies in die Klein Karoo en 'n verwondering in die groot ooptes waar geen menslike aktiwiteit gesien kan word nie. Duidelik kan ek die oop velde sien in my verbeelding soos ek jonk by die motor venster uitleun. En ek onthou hoe ek nog af gekyk het na die motorbande, soos dit stof opgooi, en gedink het, die motor pas nie in die prentjie nie ... ons is besig om skade hier aan te rig. En dan dit mooi vir myself weg verduidelik met die gedagte dat daar so baie natuur is, en ons so min skade doen ... so dit is dan seker OK. Swaar gedagtes vir 'n baie jong spoorsnyer.
Met die lang naweek saam ry ek deur die Karoo in my safari Micra, daar tussen Loxton en Fraserbrug kom my kindergedagtes weer by my op. Die Karoo is nog steeds baie groot en ruim, maar die skade van ons beskawing raak 'n al hoe groter indringer hier ... en dit is nie OK nie.
Ek dink spesifiek aan die olie maatskappye wat nou die aardgas in die Karoo se skalie formasies wil ontgin. Wat 'n gemors. Hoe enige persoon by hulle volle verstand so iets sou kon oorweeg gaan my te bowe. Van die besoedeling van ondergrondsewater bronne en die landskap, tot verdere lugbesoedeling, versteuring van geologiese foutlyne wat kan lei tot aardbewings, is alles wat ons in die gesig staar indien hidroliese breking ( fracking ) toegelaat word. En waarvoor? Sodat 'n paar ryk maatskappye kan ryker raak?
Huidiglik is daar 'n moratoruim op breking, maar die olie maatskappy het geld, baie geld, en ons almal weet dat geld meeste van die tyd altyd waardes troef.

Lees meer hier oor breking en wat jy kan doen om die Karoo te respekteer.
Hier is 'n paar fotos van my reis, geniet die oop ruimtes waar jy jou siel behoorlik kan laat neerlê en rus.


No comments:

Post a Comment