Friday 17 February 2012

54 renosters in 44 dae

My renoster vriend wat gaan ons maak? Die stomme mense soek daardie horing wat so penorent staan, en dink hulle klein horing gaan dieselfde doen. Genesing vir kanker en al word ook sommer aan jou horing toegeskryf. Domme, verstommende idees en gelowe sonder denke. En jy my vriend, gaan met jou spesies boet - soos so baie ander al het. Wat kan ons vir jou doen? Te min, te laat sê jy.
En dan die jagters wat baie betaal om vir jou te kom vermoor. Dit val buite my begrip van die wêreld om te dink dat dit plesierig moet wees? Hoe voel jy oor die saak? Dan is daar nog ook die oortuigende redenasies van hoe ge-organiseerde jag die renosters se oorlewing sal help. Maak die renoster horing handel wettig sê die mense. Sê my renoster, het jy ekonomie gestudeer? Stem jy saam met hierdie gedagte? O, jammer, ons stel nie eintlik belang oor hoe jy oor die saak voel nie.

54 renosters in 44 dae, dis die aantal wat van die begin van hierdie jaar al gestroop is. SANparke was hulle hande in onskuld; "Nee meneer, die staking van ons veldwagters in die Kruger het absoluut geen effek gehad op die stropery." Wat 'n bog spul. Die regte mense in die sindikate wat handel dryf, ry nie aan die pen horing nie. En soos gewoonlik, is Sjina die vlieg in die salf.

Hoe gaan ons aan ons kinders verduidelik dat daar nie meer 'n lewende renoster te siene is nie?

Vrede my renoster vriend, daar is mense wat omgee en probeer help.


Opvolg:(2012-02-29)
Dis nou 80 renosters in 60 dae met SANparke se werknemers wat 'n bietjie ekstra geld wou maak.

Tuesday 14 February 2012

slangmuishond

Die slangmuishond is die Overberg se kleinste karnivoor wat klein knaagdiere, voëls en eiers eet. Hy kom oral oor Suid Afrika voor maar word veral in KwaZulu-Natal uitgewis en gevang vir sy gebeendere, wat mens skynbaar onder jou tong moet sit om te keer dat die lang arm van die gereg jou vastrek. Dis is dan ook seker hoekom sy Zoeloe naam 'Nyengelezi' is, baie beskrywend want dit beteken 'die een wat ongesiens verbygaan'.
Omdat hierdie muishond ook so lank en maer is, kan sy beweging in die lang gras maklik vir 'n slang aangesien word en onse voorouers het besluit slangmuishond is 'n goeie naam.
Hier is die soogdier rooidataboek se verwysing na die slangmuishond of te wel Poecilogale albinucha met baie meer inligting. Natuurlik dink ek sy bewarings status is misleidend aangegee as 'moenie worry nie'.
Ek het so paar jaar gelede ene in 'n Sir Lowry's Pass tuin teegekom en toe hoër in die berg gaan vrylaat. Kyk na my poging om 'n dokumentêr te maak oor die saak.


Friday 10 February 2012

vooruitgang en sukses

Ons leef op 'n aarde met vasgestelde hoeveelhede van alles, m.a.w. daar is nie onbeperkte hoeveelhede materiaal van enige soort op die aarde nie. Byvoorbeeld, daar is net 'n beperkte hoeveelheid olie in die aarde, waarvan 'n mindere hoeveelheid ontginbaar en bruikbaar is. Daar is net 'n sekere hoeveelheid minerale, .... die lys kan aangaan. Omdat hierdie material die basis van ekonomiese aktiwiteit form, is die gevolg hiervan dat aanhoudende ekonomiese groei fisies onmoontlik is, en tog is dit een van die grondbeginsels van ons lewensuitkyk, eerstens, en om ander moontlikhede van bestaan te oorweeg is omtrent buite ons verwysings raamwerk. In die lig van hierdie stellings sal ek graag 'n president se toespraak aan die nasie wou skets;

"Luister mense, verskoon my taal, maar ons is diep in die kakka. Weens ons gulsige gedrag tot nou toe, is daar nie meer baie olie oor nie. Koppel dit met vergrote klimaats-steurnisse (deur ons aksies), aanhoudende vernietiging van die omgewing(deur ons aksies) en gesonde bevolkings aanwas(deur ons aksies) ens. is ons nou in 'n tyd waar ekonomiese groei fisies nie meer moontlik is nie. So om te verhoed dat dinge heeltemal tot op 'n punt kom waar alles inmekaarsak, gaan ek en my regering stappe neem om alles stadig af te skaal en om die pyn oor 'n langer tyd te versprei. So, ons moet met minder tevrede te wees en soos die oumense wat deur die groot depressie geleef het, voort gaan. Ons sal probeer om skole, hospitale, infrastruktuur ens. so ver as moontlik aan die gang te hou , but thats it ..."

Hoe sal die gepeupel dit nou sluk?  Nie goed sal ek met redelike sekerheid voorspel. En dan wat van die jeug en die 3de wereld ... genade ... die Westerse koningkryk het nou al vir eeue die derde wereld oortuig dat hulle moet soos Westerlinge raak. En nou om om te draai en te sê, wag so bietjie, ons is eintlik verkeerd jammer,  soos julle tans lewe, is baie meer koolstofspoor vriendelik, so julle moet by grashutte en onderhoudsboerdery bly, jammer geen iphones, motorkarre, TVs, elektriese toestelle, vakansies oorsee, vir julle nie. En dan die jeug, wat groot gemaak word met beloftes van 'n 'beter' lewe waarin hulle nog meer as hulle ouers sal besit. Wat 'n absolute psigologiese knak gaan dit nie wees nie as hulle besef, hulle ouers, en die se voorouers, het met gevoude arms bygestaan en die vernietiging van die natuurlike omgewing aanskou, en deelgeneem, ten einde daar niks meer oor is vir hulle nie. Dat sal chaos wees. Die diep vasgestelde beskawings norme van vooruitgang is in sy kanon.

So agteruitgang is die nuwe voortuitgang. En 'n moontlike nuwe definisie van sukses is; om op so manier te lewe dat jou uitwerking op die natuur en omgewing so klein as moontlik is, sodat jy jou deel doen vir jou kinders se erfenis.