Friday 17 February 2012

54 renosters in 44 dae

My renoster vriend wat gaan ons maak? Die stomme mense soek daardie horing wat so penorent staan, en dink hulle klein horing gaan dieselfde doen. Genesing vir kanker en al word ook sommer aan jou horing toegeskryf. Domme, verstommende idees en gelowe sonder denke. En jy my vriend, gaan met jou spesies boet - soos so baie ander al het. Wat kan ons vir jou doen? Te min, te laat sê jy.
En dan die jagters wat baie betaal om vir jou te kom vermoor. Dit val buite my begrip van die wêreld om te dink dat dit plesierig moet wees? Hoe voel jy oor die saak? Dan is daar nog ook die oortuigende redenasies van hoe ge-organiseerde jag die renosters se oorlewing sal help. Maak die renoster horing handel wettig sê die mense. Sê my renoster, het jy ekonomie gestudeer? Stem jy saam met hierdie gedagte? O, jammer, ons stel nie eintlik belang oor hoe jy oor die saak voel nie.

54 renosters in 44 dae, dis die aantal wat van die begin van hierdie jaar al gestroop is. SANparke was hulle hande in onskuld; "Nee meneer, die staking van ons veldwagters in die Kruger het absoluut geen effek gehad op die stropery." Wat 'n bog spul. Die regte mense in die sindikate wat handel dryf, ry nie aan die pen horing nie. En soos gewoonlik, is Sjina die vlieg in die salf.

Hoe gaan ons aan ons kinders verduidelik dat daar nie meer 'n lewende renoster te siene is nie?

Vrede my renoster vriend, daar is mense wat omgee en probeer help.


Opvolg:(2012-02-29)
Dis nou 80 renosters in 60 dae met SANparke se werknemers wat 'n bietjie ekstra geld wou maak.

No comments:

Post a Comment