Tuesday 31 January 2012

Hernuwing

Die afgelope naweek het ek die voorreg gehad om saam met die bergklim klub te gaan 'kloof' bo in die Hottentots-Holland berge, naby die oorsprong van die Riviersonderend  -  wat 'n heerlike gepaste naam vir 'n rivier wat water in die are van Gaia rond dra tot by die see, waar dit dan weer terugkom na die oorsprong as reen.
Dit was 'n geklouter oor rots blokke en in diep poele in spring van hoogtes wat mens net so bietjie laat ongemaklik voel. Maar die lekkerste vir my was die dryf saam met die stroom deur die donker water. Veral daar in die begin van die nou kloof, waar dit voel of die boonste rotswande bo aan mekaar raak. Om dan op jou rug te dryf met jou ore onder die water, en op te kyk na die natuur bo jou, het gevoelens van absolute veiligheid, vrede en kalmte gebring. 'n Diepe verbintenis met die lewende berg wat my oer-onderbewussyn gesus het. En soos mens dan verder gaan, maak die kloof oop en baar jou sagkens weer die wêreld in.
Alhoewel die dag lank was en fisies uitputtend het die water my siel gewas en verlig van alledaagse struwelinge en kwaad wat mens ronddra. En dit is een van die groot dienste wat die natuur verniet aan ons verskaf, en die een wat die minste benut word.

Sunday 22 January 2012

Hoop

Hoop is nie die versekering dat goeie goed sonder twyfel op ons pad sal kom nie, maar eerder 'n herkenning dat daar miskien goeie goed behaal mag word ten spyte van die omstandighede, en 'n vasberadenheid om aan te hou probeer.