Tuesday 17 September 2013

Ontwaking - Metamorfose - Skepping : 'n Voorwoord

In 'n nat donker kloof,
so nou dat die blou lig uit sig verdwyn,
staan 'n eland op 'n klip en wag.

In die diepte van die donker kloof,
onder mantel van druppende blare, gee Gaia geboorte.
Twee kinders uitgedruk uit die grond en klip.

Afgesante van die aarde, met 'n boodskap en 'n doel.
Die eland dra hulle weg, die wereld in.
So begin die storie, so begin die reis ...

Wednesday 20 June 2012

Winter Sonstilstand

Met 'n pak geverfde wildehonde jaag die druide doelgerig
na die flou son wat stadig kwyn.
En die son sê ek is nou moeg,
dit was 'n lang jaar.
ek gaan nou slaap en verduister.

My dierbare son, die aarde het jou nodig,
die lewe het jou nodig, kom terug.

En die druide dans met sy wilde honde,
om die son wakker te hou,
sirkels in die stof en sing - grom - tjank.

Swart en koud lê en slaap die son,
maar die druide slaan sy ysterklip,
en die vonke laat droë mos brand,
en die vlammende mos steek 'n byewas kers aan.

Ek en my honde sal oor jou waak son,
niks sal jou steur nie.
môre moet jy sterk wees,
môre begin 'n nuwe seisoen.

Thursday 7 June 2012

Wêreld Oseane Dag - 8 Junie

Soos met alle spesiale dae is dit altyd my wens dat ons gedurig aandag aan hierdie belangrike 'amptelike' omgewings dae sal gee en nie net op die een dag nie.

Ons is baie gelukkig om hier in Suid Afrika so baie kuslyn tot ons beskikking te hê met verskillende seestrome, 'n magdom van biodiversiteit, klimaat en geologie diversiteit.  En ons geniet dit om vakansie te hou, vis te vang en sport te beoefen. Maar hoe lank nog? Die oseane word doodgemaak deur besoedeling: olie (Deepwater Horizon), radioaktiewiteit (Fukushima), plastiek gemors (drywende eilande plastiek), versuring ( verandering van die chemiese samestelling van oseane deur koolstof in die atmosfeer ). En ook dan natuurlik die stroping van vis en ander bruikbare bronne uit die see. Op een of ander manier moet ons 'n verander maak.

Die eerste stap, volgens my is miskien eers 'n verandering wat in onsself moet gebeur. Dat ons moet besef die aarde, met al haar skatte, behoort nie aan ons nie. Niemand het dit vir ons gegee nie en niemand het ons as heersers daaroor aangestel nie. Dis maar net ons eie ego en gulsigheid wat ons op hierdie dwaal spoor gebring het so met die eeue saam. Ek weet dit is diep vas gemessel in ons samelewing en geloof, maar dit is verkeerd. Kyk net hoe verwoes ons alles met ons 'heerskappy'. Ons moet respek vir die natuur, waarvan ons intiem deel is, kweek.  

En hoe doen ons dit? Wel 'n goeie begin is om vandag(nou onmiddelik) te begin om 'n kleiner negatiewe uitwerking op die natuur te hê. En dis maklik. Verbruik minder (jy kan altyd), herverbruik( is daar so woord?  = recycle ) en mors minder, is praktiese maniere om te begin om die natuur lief te hê. Die voorbeeld wat ons sal stel, sal baie magtiger wees as enige protes aksie.  En daar is net die moontlikheid dat dit 'n verskil kan maak in die toekoms. Persoonlik wil ek nie hê dat my dogters oor 20 jaar na my toe met beskuldiging en verwyt kom omdat ek geweet het ek is besig om the omgewing te verwoes, maar het net my kop in die sand gedruk en aanhou partytjie hou. Dit gaan nie gebeur nie.

http://worldoceansday.org/

Monday 7 May 2012

Karoo

Van my kinderdae onthou ek lang vakansies in die Klein Karoo en 'n verwondering in die groot ooptes waar geen menslike aktiwiteit gesien kan word nie. Duidelik kan ek die oop velde sien in my verbeelding soos ek jonk by die motor venster uitleun. En ek onthou hoe ek nog af gekyk het na die motorbande, soos dit stof opgooi, en gedink het, die motor pas nie in die prentjie nie ... ons is besig om skade hier aan te rig. En dan dit mooi vir myself weg verduidelik met die gedagte dat daar so baie natuur is, en ons so min skade doen ... so dit is dan seker OK. Swaar gedagtes vir 'n baie jong spoorsnyer.
Met die lang naweek saam ry ek deur die Karoo in my safari Micra, daar tussen Loxton en Fraserbrug kom my kindergedagtes weer by my op. Die Karoo is nog steeds baie groot en ruim, maar die skade van ons beskawing raak 'n al hoe groter indringer hier ... en dit is nie OK nie.
Ek dink spesifiek aan die olie maatskappye wat nou die aardgas in die Karoo se skalie formasies wil ontgin. Wat 'n gemors. Hoe enige persoon by hulle volle verstand so iets sou kon oorweeg gaan my te bowe. Van die besoedeling van ondergrondsewater bronne en die landskap, tot verdere lugbesoedeling, versteuring van geologiese foutlyne wat kan lei tot aardbewings, is alles wat ons in die gesig staar indien hidroliese breking ( fracking ) toegelaat word. En waarvoor? Sodat 'n paar ryk maatskappye kan ryker raak?
Huidiglik is daar 'n moratoruim op breking, maar die olie maatskappy het geld, baie geld, en ons almal weet dat geld meeste van die tyd altyd waardes troef.

Lees meer hier oor breking en wat jy kan doen om die Karoo te respekteer.
Hier is 'n paar fotos van my reis, geniet die oop ruimtes waar jy jou siel behoorlik kan laat neerlê en rus.


Monday 2 April 2012

plastiek besoedeling: wasmasjiene

Ek het vantevore geskryf oor plastiek en die besoedeling van ons oseane. Die groot probleem is dat plastiek nooit eintlik 'verdwyn' nie. Dit word wel afgebreek, maar betree dan die voedsel ketting as baie klein partikels. En eindig dan uiteintlik in die vis wat ons eet op. Die verassing wat nuwe navorsing nou vorendag gebring het, is dat die was van klere, wat vervaardig word uit sintetiese materiaal, in wasmasjiene 'n groot bydra maak.

Kyk hier na 'n video en hier na 'n Scientific American artikel.

Thursday 22 March 2012

Leierskap en die Etiese Kwessie

1. Inleiding - Is daar rede tot kommer?

Dit lyk of ons ons bevind in wat Capra (1996:3) noem “ ‘n krisis van persepsie”; dat ons huidige denkwyse verouderd is en nie in staat om die mas op te kom teen die omgewings krisisse wat ons huidiglik in die gesig staar nie. Ons wêreldsiening is nog onderhewig aan ‘n Cartesiese denkwyse wat ons oortuig dat westerse kennis en wetenskap die panacea is wat ons gaan red van alle kwaad en alle probleme in die niet gaan laat verdwyn terwyl ons ‘n goue itopiese toekoms binnegaan. Ons het ‘n skuif uit hierdie paradigma nodig.

Ek wil nie te diep in die kwessie van klimaatsverandering delf nie, maar ek dink dit dien as handige inleiding tot die debat rondom etiek en leierskap. Ek is van die opinie dat, a) klimaatsverandering wel besig is om te gebeur (menslik gedrewe of nie) en, b) dat menslike aktiwiteit dien as drywingsmeganisme vir klimaatsverandering.

Kortliks uitgebry, staaf ek my argument in a) en b) soos volg:

A) Klimaatsverandering is ‘n realiteit

‘n 2007 Verslag van die IPCC (Inter-governmental Panel on Climate Change) dui onder andere op die volgende punte:

  • Elf van die laaste warmste jare op rekord het geskied in die twaalf jaar periode tussen 1995-2006.
  • Sedert 1961 het die gemiddelde seevlak met ongeveer 1.8mm per jaar gestyg en het sedert gestyg tot 3.1mm per jaar in die periode na 2003.
  • Arktiese see-ys het merkbaar verminder sedert 1978, en gletsers is besig om te smelt.
  • Presipitasie patrone is besig om te verander met die moontlikheid van langer droogte periodes. Algehele sneeu neerval het ook afgeneem.
  • Hittegolwe het vermeerder en tropiese siklone het toegeneem in sterkte.

B) Menslike aktiwiteit dien as drywings meganisme vir klimaatsverandering

Alhoewel die aarde deur natuurlike klimaatsiklusse gaan, dui bewyse uit ys kerne daarop dat die algehele vlak van GHG (greenhouse gasses) gestyg het sedert die aanvang van die industriële revolusie, met CO2 vlakke wat gestyg het van 280ppm tot 430ppm (Stern 2007:ii)

Die bogenoemde is hoegenaamd nie ‘n in-diepte uiteensetting van klimaatsverandering nie, maar toon wel dat verandering besig is om te gebeur, en dat menslike aktiwiteit wel besig is om ‘n rol te speel. Die negatiewe impak wat die veranderinge gaan hê is ‘n fait accompli en sluit in verlies aan biodiversiteit, skade aan mariene ekosisteme en klimaats vlugtelinge.

Met die bogenoemde krisis as agtergrond wil ek graag meer in diepte kyk na die rol van leierskap.

2. Die onstaan van ‘n omgewings etiek (environmental ethics – weet nie of dit die regte afrikaanse vertaling daarvoor is nie)

Daar bestaan geen twyfel by my dat ons as mensdom oor die eeue sekerlik gewonder het oor ons plek in die natuur, die impak van menslike aksies op die omgewing waarin ons leef of die regte van die ‘natuur’ in die geheel. Dit is egter eens teen die einde van die vorige eeu dat die formulering van wat beskryf kan word as ‘n omgewings etiek plaas gevind het. Soos nuwe ontdekkings in kwantum fisika aan die begin van die vorige eeu wetenskaplikes se siening oor ons fisiese realiteit radikaal verander het, so was Rachel Carson se boek “Silent Spring” in 1962 die katalis wat gelei het tot die ontwaking van die omgewings bewuste beweging (Palmer 2003:15).

Die idee dat ons menslike aksies wyer ekologiese implikasies het, het gelei tot meer in-diepte filosofiese besprekings in die 70’s; met veral 1973 wat gesien word as waterskeidingsjaar toe die filosoof Richard Routley sy skrif “Is there a need for a new, an environmental ethic?” voorgelees het by die Wêreld Filosofie Konverensie (Hattingh 1999: 69). Dieselfde jaar sou Arne Naess se opstel, “The shallow and the deep, long-range ecology movement” die lig sien wat die fondamente gelê het vir die onstaan van die ‘Deep Ecology’ beweging (Hattingh 1999: 69). Die debat rondom etiek het voortgewoed deur die 70’s maar dit was eers teen 1979 dat Eugene Hargrove die eerste uitgawe van die joernaal ‘Environmental Ethics’ gepubliseer het, en in die woorde van Palmer (2003: 16): “…now undisputedly the most significant journal in the field”.

Dit het egter gou duidelik gework dat die besprekings rondom omgewings etiek slegs die oppervlak skraap en dat ‘n wye spektrum van sienings saamgevat word onder hierdie koepelterm (Palmer 2003: 16), met wynig konsensus tussen die verskeie filosofiese en etiese oogpunte. Die verskeie uiteenlopende sienswyses het dit egter onmoontlik gemaak om ‘n sentraal al-omvattende definisie van omgewings etiek te omskryf wat kon dien as raamwerk vir verdere studie.

Dit beteken egter nie dat daar geen konsensus bestaan tussen die verskeie filosofiese sienswyses nie; breedweg gekategoriseer sien Arne Naess die debat rondom omgewings etiek bestaande uit twee standpunte, nl: “Shallow” en “Deep Ecology” (Capra 1996:7). “Shallow ecology” kan beskryf word as ‘n sterk antroposentriese sienswyse wat die waarde van die natuur sien slegs in terme van die praktiese waarde wat dit inhou vir mense. Die “Deep Ecology” perspektief sien die waarde van die natuur as intrinsiek, iets wat waarde op sig self het, ongeag die nut aan die mens. Die bogenoemde verdeling is ‘n baie ‘rowwe’ indeling en daar bestaan ‘n breë spektrum van opinies onder elk van die twee indelings. Die verskillende opinies is egter nie vir my van belang nie, maar wel die konsep van waarde, wat die onderliggende verskil tussen die perspektiewe is. Dit is hierdie konsep van waarde en ons interpretasie van waarde wat ek graag meer in diepte will beskou.

3. Waarde

As waarde slegs gesien word in terme van die nut wat dit inhou vir die mens, soos gesien vanuit die antroposentriese oogpunt, dan beteken dit dat ons as mens basies carte blache het in terme van hoe ons die konsep ‘waarde’ interpreteer. Vanuit so ‘n oogpunt is dit maklik om te sien hoe iets soos die vernietiging van die natuur vir die ontgunning van natuurlike hulpbronne verdedig kan word in terme van die ekonomiese waarde wat dit inhou.

Aan die teenoorgestelde kant, vanuit die sterk ‘Deep Ecology’ oogpunt, is daar die gevaar dat die regte van die individu opgeoffer kan word vir die groter geheel (Hattingh 1999: 76), dat die reg van die natuur verhewe is bo die van die individu.

Die probleem is dat die lewe en die daaglikse bestaan nie net ‘n swart of wit stryd is tussen die mens en die natuur nie, maar daar is ‘n oneindige hoeveelheid ‘grys’ areas wat nie so maklik gekategoriseer kan word nie. Dit is hierdie sogenaamde grys areas wat sentraal is tot die debat rondom die konsep van waarde in omgewings etiek.

Die manier hoe ons die wêreld ervaar (nie net die natuur nie, maar ook die fisiese realiteit), bepaal ons interaksie daarmee. Wat word van waarde geag en wat is die oorsprong van hierdie waarde? Is waarde slegs iets wat deur die mens toegereken word, of is waarde ‘n intrinsieke eienskap van die natuur en alles daarin wat slegs deur die mens erken moet word?

Soos verwag kan word verskil mense se persepsies radikaal, en die idee van ‘n universele skeidslyn is onrealisties. Ons waarde sisteem word gevorm in die smeltkroes van ons daaglikse bestaan maar elkeen se interpretasie van hierdie ervaring is uniek, self in my eie denkpatrone is daar nie altyd ‘n duidelike onderskeid nie. Waarde is nie iets wat in isolasie gesien kan word nie; wanneer ek waarde aan iets toe-eien gebeur dit gewoonlik binne ‘n spesifieke konteks en dit impliseer ‘n mate van hierargiese besluitneming.

Hoe bepaal ek waarde? Persoonlik bevind ek myself in die ‘deep ecology’ kamp; ek glo alles het intrinsieke waarde, en dat alles ‘n gelyke reg het om te bestaan; ek is deel van die natuur en die natuur is deel van my. Maar selfs vanuit hierdie oogpunt geskied my besluitneming nie van ‘n gelyke grondvlak af nie, maar is gegrond in ‘n vloeibare hierargiese sisteem wat homself aanpas binne elke unieke konteks. Hoe ag ek die waarde van ‘n boom in vergelyking met ‘n woud of ‘n ekosisteem? Het alles nog steeds gelyke waarde? Ek weet dat indien ek die keuse gegee sou word om te kies tussen die lewe van ‘n plant of ‘n mens, sal ek die lewe van die mens kies bo die van die plant. Selfs al kies ek die lewe van die plant bo die van die mens impliseer dit nog steeds ‘n mate van antroposentrisme, aangesien dit nog steeds ek is wat die keuse maak gebaseer op ‘n sekere hierargiese waarde bepaling.

Dit mag miskien ‘n banale voorbeeld wees, maar dit dui op die feit dat ons nie kan hoop op ‘n universele groep waardes nie, aangesien ons nie onself kan verwyder vanuit die ervaring van die lewe nie. Wanneer ons onself ‘verwyder’ uit die lewensproses en dinge vanuit ‘n abstrakte vlak aanskou, is dit miskien moontlik om te dink aan ‘n universele stel waardes, maar waaneer ons gekonfronteer word met werklike lewens situasies raak die proses baie moeiliker.

Gesien op ‘n meer prakties ekologiese vlak, speel die stryd rondom omgewingsbewaring hom gereeld af binne die ‘natuur vs. ekonomie’ debat (Norton 1991: 4); m.a.w. die vernietiging van die natuur is geregverdig op grond van ekonomiese waarde wat dit inhou vir die oortreders. In baie gevalle hang mense se ekonomiese bestaan af van skadelike praktyke, wat ons natuurlik in ‘n morele penarrie los, want sonder hierdie praktyke kan hierdie persone nie ‘n bestaan maak nie.

Hierdie tipe van problematiese grys areas beteken nie ons moet noodwendig alle hoop laat vaar nie. Deur net te fokus op morele dilemmas en die diverse oogpunte binne die omgewings debat, is dit maklik om moed te verloor en oor te gaan na inaksie, terwyl die kans om pragmatiese oplossings te vind binne die diversiteit ons verbygaan (Norton 1991: 12). Dit is juis hierdie tipe van pragmatiese benadering wat nodig is in leierskap posisies binne die omgewings debat.

4. Leierskap

Gegewe ons sogenaamde gevorderde tegnologiese kennis en vaardigheid, staan ek altyd in verwondering oor presies hoe ons in hierdie ekologiese penarrie beland het. Dit is nie asof die skrif nie al lankal teen die muur was nie, maar ten spyte van alles staar die dieptes van ‘n ekologiese ramp ons in die gesig.

Ongelukkig het die reaksie van leiers, regerings en ons as publiek op hierdie dilemma tot niks meer as ‘n kollektiewe nul op ‘n kontrak gelei nie. Nêrens is die mislukking van ons kortsigtigheid meer duidelik as in die resultate van die COP vergaderings, wat nou in sy 17de jaar, nog tot geen bindende strategie gelei het nie.

Die afwesigheid van enige noemenswaardige omgewings etiek in beleids formulering en implementering is al voor die deur van menige dinge gelê, insluitend: ‘die skaal van die probleem is te groot’; die afwesigheid van ‘n omvattende trans-disiplinêre benadering of die bevooroordeling van navorsing oor praktiese toepassing daarvan; weinig word daar egter na die gebrek aan leierskap verwys as moontlike oorsaak (Manolis, Chan, Finkelstein, Stephens, Nelson, Grant, Dombeck, 2008:880).

Leierskap vs. Outoriteit

Volgens Heifetz (1995: 49) is daar ‘n algehele misverstand tussen die betekenis van die konsep leierskap en outoriteit; hierdie is nie konseptueel identiese terme nie. Die tendens is daar om die terme as deel van dieselfde geheel te sien, maar na regte is outoriteit maar slegs een aspek van leierskap. As dit nie reg benader word nie kan outoriteit die invloed van leierskap negatief beïnvloed -> Outoriteit is deurvleg met onderliggende konsepte van mag en dominansie, gewoonlik in konteks van mag oor andere. Dit is hier waar Heifetz (1995: 50) paralelle trek met primaat ‘samelewings’ waar outoriteit verweefd is in ‘n hierargiese struktuur en individue laer op die hierargiese lys ‘onderdanig’ is aan individue bo aan die hierargie. Menslike samelewings is vanselfsprekend meer kompleks van aard, maar die benadering tot outoriteit is nog steeds omskryf interme van hierargie en dominansie.

Wanneer leierskap uit die oogpunt (hierargies/dominansie) aanskou word, mis ons die punt van wat dit beteken om in ‘n demokrasie te bly (Heifetz 1995: 61), want leierskap is binne bereik van elkeen van ons en nie net ‘n ‘talent’ van ‘n beskore paar individue nie. Dit is immers ons plig en verantwoordelikheid as deel van die sosiale kontrak as burgers om deel te neem in besluitneming en die formulering van ‘n meer etiese samelewing. Die outoriteit wat ons het om tot aksie oor te gaan behoort vasgevang te wees in die kulturele norme van ons samelewing (Heifetz 1995: 62).

Institutionele Verandering

Die uitdaging lê in die omskakeling van individuele leierskap na institutionele verandering, e.g. die veranderings wat individue in hulle eie lewens maak kan slegs betekenis hê as institusies soos regerings, korporasies en ander invloedryke organisasies die nodige verandering dryf deur die formulering van volhoudbare omgewings beleid.

Volgens Capra (2002: 102) is die feit dat ons nog grotendeels ‘n Cartesiese uitkyk het op die natuur, die samelewing en intitutionele beleid daarvoor verantwoordelik dat ons nog nie enige noemenswaardige institutionele verandering kon meebring nie. Ons institutionele raamwerk is nog steeds dié van ‘n goed ge-oliede masjien, waar alle parte saamwerk om die masjien te laat werk. Om dus ‘n korporasie (as voorbeeld) te laat werk, moet die bestuurder seker maak dat al die ‘parte’ hulle werk doen en optimaal funksioneer; hoe beter die parte funksioneer, hoe beter funksioneer (profeit) die korporasie. As ‘n part (werker) nie behoorlik werk nie, word hy/sy vervang met een wat beter werk.

Die problem met hierdie sienwyse is duidelik dat enige intelling nie net bloot ‘n werkende masjien is nie, maar bestaande uit ‘n “gemeenskap van mense” (Capra 2002: 99) wat interaksie het met mekaar ,verhoudings vorm en ‘n komplekse geheel vorm wat nie vergelyk kan word met die werking van ‘n blote masjien nie.

Ongelukkig sien ons onself ook grotendeels as dele van ‘n masjien, ons eie persoonlike sukses is onderhewing aan die sukses van die korporasie, ons werk almal saam as ‘n ‘span’ sodat die besigheid goed kan doen en ons almal kan voordeel trek daaruit. Ons wag vir verandering om te kom van persone met gesagsposisies, maar besef nie ons eie kapasiteit om as leiers op te tree nie.

Deel van die problem is wat Heifetz (1995:60) noem ons “habitual deference to power”; ons ruil ons demokratiese regte vir dinge soos sekuriteit en stabiliteit, soms onder verskuilde dwang. Gesien in die konteks van werk loop ons altyd die gevaar om ons werk te verloor; deur gesag aan te vat staar ons werkverlies en onsekerheid (emosioneel en finansiëel) in die gesig. Ons is vasgevang in ‘n illusie van vryheid; dit is makliker net om te bly in ‘n gemaksone van stabiliteit eerder as om gesag aan te vat en die gevaar te loop van ‘n onsekere toekoms.

Ek is van die opinie dat ons (veral) in die Weste demokrasie verwar met ‘keuse’. Net die feit dat ek ‘mark vryheid’ het (die vryheid om enige iets te koop wat ek wil), beteken nie ek het insae oor al die magstrukture wat beheer uitoefen oor my lewe nie.

In die woorde van Slavoj Zizek: “We act as if we are free to choose, while silently not only accepting but even demanding that an invisible injunction tells us what to do and think...This is why in ‘free elections’ there is always a minimal aspect of politeness: those in power politely pretend that they do not really hold power, and ask us to decide freely if we want to give them power – in a way which mirrors the logic of a gesture meant to be refused” (2009:134, 135).

5. Aanpasbare Leierskap

Hoe is dit dus moontlik vir die individu om ‘n leierskap posisie in te neem in ‘n korporasie (of enige ander institusie) en daadwerklike, praktiese verandering te weeg te bring? Soos vroeër genoem moet ons die idee van korporasies as werkende ‘masjiene’ laat vaar en erken dat dit komplekse sisteme is wat bestaan uit mense wat in interaksie is met mekaar en sosiale netwerke vorm. Hierdie netwerke bestaan nie net binne die grense van die gegewe korporasie/ institusie nie maar oorvleuel met ander sosiale netwerke waarin mense betrokke is; dit kan beteken dat netwerke soms oor internasionale grense strek. Binne hierdie konteks raak die rol van die individu baie meer duidelik.

Met die verspreiding en ontwikkeling van nuwe tegnologie het die ‘afstand’ tussen individue grootliks verkort en kan daar nou opreg gepraat word van ‘n ‘global village’ waar mense kan assosieer op grond van gemeenskaplike betekenisvolle konteks. Mens hoef net terug te dink aan die rol wat die internet gespeel het in die organisasie van betogings gedurende die WTO vergaderings in 1999 (Capra 2002: 80), of meer onlangs die rol van sosiale netwerk webwerwe soos Twitter of Facebook in die ‘Arab Spring’.

Leiers is dus nie meer slegs tradisionele outiriteits figure nie, maar enige persoon met toegang tot sosiale netwerke kan die mantel van leierskap dra en agente van verandering word. Die gebrek aan ‘n noemenswaardige omgewings etiek beleid moet dus nie slegs gesien word as ‘n teoretiese mislukking nie, maar as ‘n geleentheid om pragmatiese oplossings te vind deur die gebruik ‘n verskeidenheid etiese benaderings (Hattingh 1999: 80).

Ek dink nie vir een oomblik dat daar ‘n tower formule is en dat individue ewe skielik drastiese veranderings teweeg gaan bring nie, maar ek dink wel ons moet meer klem plaas op die kultuvering van leierskap en vrye denke, sodat spontane leierskap aangemoedig kan word. ‘n Groot problem (en hierdie is slegs my opinie) is dat ons tertiëre inrigtings nie meer institusies is waar vrye denke aangemoedig word nie. Bevondsing deur korporasies en ander privaat instansies bepaal al hoe meer die tipe navorsing wat plaasvind. Grade word gestruktureer volgens die bepalings van industrie sodat studente poste kan vul na studies. Nie dat dit noodwendig ‘n slegte ding is nie aangesien dit tog wel die rede is hoekom mens studeer, maar die probleem is dat ons drasties mense nodig het wat krities na ons huidige lewenswyse kan kyk, nie net blindelings poste vul nie. Ons het drasties alternatiewe nodig tot ons kapitalistiese bestaan, en nee, ‘groen’ kapitalisme is nie die antwoord nie.

Op die oomblik is dit asof ons beide kante van ons brood gebotter wil hê; daar kan nie sprake van ‘n volhoubare toekoms wees voor ons nie ‘n meer sosiaal en omgewings regverdige ekonomiese alternatief na streef nie. Kapitalisme is ‘n marks gebasseerde ekonomiese model wat slegs bestaan in so ver onophoudende groei (ekonomies) moontlik is; dit kan niks anders doen nie. Dit is nie ontwerp om die konsep van skaarste en ‘n eindige (finite) planeet in ag te neem nie, maar word gedryf deur markte en profeit. Dit maak nie saak hoeveel mense in ‘n korporasie betrokke is by volhoubare (groen) projekte nie, want die bestaansrede vir enige korporasie is wins; daarsonder gaan die korporasie onder, etiek het niks daarmee te doen nie.

Die vraag is hoe doen ons die omskakeling van ‘n marks aangedrewe ekonomiese model (met geen konsep van etiek nie), na ‘n meer sosiaal en omgewings regverdige model? Ek is nie ‘n ekonoom nie en my begrip van ‘ekonomiese’ sake is bitter skraal om die minste te sê, maar ek kan nie sien hoe hierdie proses gaan plaasvind sonder ‘n vorm van katarsis nie.

‘n Voorbeeld van so ‘n proses is die ontstaan van gemeenskaps gebaseerde stedelike voedselproduksie in Kuba. Dit was nie ‘n gelykmatige proses nie, maar gebore uit noodsaak om alternatiewe oplossings te vind na die val van die ou Sovjet Unie hul toegang tot olie afgesny het. Meer onlangs was daar die opstande in die Midde Ooste, die sogenaamde ‘Arab Spring’, maar weereens was dit ‘n katarsiese proses meegebring deur dekades lange outokratiese onderdrukking.

Soos my verstand nie die ongelooflike intrieke werking van óf die sienbare heelal of die kompleksiteit en elegansie van die kwantum wêreld kan begryp nie, só kan dit ook nie die hoeveelheid geld en verweefde magstrukture in die wêreld ekonomie begryp nie. Vanuit ‘n realistiese oogpunt gesien kan ek nie insien hoe hierdie magstrukture ewe skielik ‘n krisis van gewete gaan kry en hulle voorregte met die res van ons gaan deel nie; dit gaan slegs gebeur deur een of ander drastiese katarsiese proses.

Ons soek almal ‘n gelukkige einde, en ek sal byvoeg dat ek glo pragmatisme kan wel ‘n deurslagewende verskil maak, maar of die spoed en skaal van daardie verskil genoeg gaan wees om ‘n noemenswaardige verskil te maak is in twyfel. Dit mag dalk wees dat genoeg verandering op klein skaal die kritiese massa verskaf wat aanleiding gee tot ‘n katarsiese proses, maar die kans dat so ‘n proses vreedsaam gaan verloop is skraal.

Bibliografie

Capra, F. 1996. “Deep Ecology – A New Paradigm” in Web of Life: a new scientific understanding of living systems, Anchor Books, New York.

Capra, F. 2002, “Life and Leadership in Organisations” in Life and the Hidden Connections, Harper Collins, London.

Hattingh, J. 1999. Finding Creativity in Diversity of Environmental Ethics. Southern African Journal of Environmental Education, No. 19, pp.68-84.

Heifetz, R. A., 1995. – “The Roots of Authority” in Leadership without easy answers. Bellknap Press, England.

Intergovernmental Panel on Climate Change 2007, Climate Change 2007, United Nations Environment Program, Geneva.

Norton, B. 1991. “The Environmentalists’ Dilemma” in Toward Unity among Environmentalists. Oxford University Press, New York.

Palmer, C. 2003, “An Overview of Environmental Ethics”, in Environmental Ethics: An Anthology. Edited by Andrew Light and Holmes Rolston III. Blackwell, Malden.

Stern, N. 2007, Stern Review: Economics of Climate Change, Cambridge University Press, Cambridge.

Zizek, S. 2009, First as Tragedy, Then as Farce. Verso, London.


Thursday 15 March 2012

Leeukop Stap: Herfsgety Dag-en-Nag Ewening

Kom stap Leeukop saam met ons Dinsdag oggend, 20ste Maart 2012.
Ons ontmoet 6:00 vm by die parkeer plek. Die ewening ( equinox ) vind om 7:14 vm plaas en hopelik is ons dan bo. Aanplak baarde en wit gewaade is opsioneel. Bring 'n kopliggie want dit mag nog donker wees.
Kontak Spoorsnyer of Raap vir verdere inligting.
Tradisioneel is die ewening 'n tyd van dankbaarheid vir 'n die gawes van die natuur, wat ons aan die lewe hou, en die deel daarvan met almal. Miskien is dit dan 'n tyd om na te dink oor die gawes van die natuur soos lug wat ons elke oomblik inasem en vars water wat ons drink. En ook hoe ons deur aanpassings in ons lewenstyl, 'n kleiner nadelige effek op die natuur mag hê, in 'n gees van respek en persoonlike verantwoordelikheid.